WeCreativez WhatsApp Support
Our customer support team is here to answer your questions. Ask us anything!
Hi, how can I help?

HDL-JUWELIERS WEER EERSTE NÁ 20 JAAR

HDL-JUWELIERS WEER EERSTE NÁ 20 JAAR

TWINTIG jaar nadat mev. Dolores Laubscher as die eerste Kleinsakevrou van die Jaar aangewys is, is die familie-onderneming HDL-juweliers as die eerste nasionale Kleinhandelaar van die Jaar aangewys.

Volgens mnr. Johan Laubscher, mededirekteur van HDL, is dit werklik spesiaal dat die onderneming met hierdie nuutste eerbewys voortbou op die uitstekende produkte en diens wat klante deur die jare van dié onderneming leer ken het.
HDL-juweliers het vroeër vandeesmaand op ’n spogdinee in Johannesburg die nasionale Kleinhandelaar van die Jaar-eerbewys van die Suid-Afrikaanse raad van winkelsentrums (SACSC) ontvang.

HDL is in 1977 deur mev. Dolores Laubscher en haar man, Hermias, op hul plaas Rooikraal begin. Wat eers as ’n stokperdjie begin het, het gou ontwikkel in ’n uiters suksesvolle onderneming. Die heel eerste projek was ’n medalje van ’n buurman wat Hermias vir hom geset het.

Kort daarna is die Pêrel Boutique in 1984 in die ou Fichardt-arkade oopgemaak en later is die HDL-Juweelmodehuis in die middestadsentrum begin. Hierdie onderneming het ’n reusagtige 440m² beslaan en was lank bekend as die grootste juweliers¬onderneming (per oppervlakte) in die wêreld.

Die familie het ook destyds Galaxy gestig wat ontwikkel het as die eerste juweliersonderneming waarvan bedryfsregondernemings gestig is. Intussen het hulle Galaxy verkoop.

Vandag is die hooftak van HDL-juweliers in Mimosa Mall met nog ’n tak in Prellerplein en ’n gesamentlike werkswinkel. ’n Nuwe tak maak ook eersdaags sy deure in die nuwe Loch Logan-waterfront oop.

Volgens mnr. Danie de Goede, voorsitter van die sentrale streek van SACSC en bestuurder van Mimosa Mall in Bloemfontein, is hierdie eerbewys soos die Oscars van die kleinhandelbedryf.

De Goede het HDL vir die kompetisie benoem en hulle is in November verlede jaar as streekfinaliste aangewys voordat hulle vanjaar teen vyf ander streekfinaliste te staan gekom het.

Hy sê die prestasie bewys dat kleiner sentra nie hoef terug te staan vir groter streke en gevestigde winkelsentrums nie.
Laubscher sê die eerbewys span die kroon op jare se harde werk en ’n gesin se groot passie vir die juweliersbedryf.

“Ek is so trots daarop dat die tweede geslag dit reggekry het om Bloemfontein op nasionale vlak te laat uitstyg, nadat my ma in 1987 as Kleinsakevrou van die Jaar bekroon is.

“My ma sê juis dat sy ná hierdie prestasie bykans 20 jaar later weet dat sy gerus oor die toekoms kan wees.”
Laubscher sê groot uitdagings word aan die tweede geslag van ’n gesinsonderneming gestel.

“Ons het ’n suksesvolle onderneming oorgeneem en ’n mens is altyd bang jy stel jou ouers teleur. My ma het ’n hoë standaard gestel, maar sy het ons ook die afgelope 15 jaar toegelaat om die onderneming met groot passie in nuwe rigtings te stuur.”

Passie en ’n groot dosis positiwiteit het volgens Laubscher die deurslag gegee. Hulle is beoordeel op kriteria soos diens, hantering van klante, die navolg van die nuutste neigings in hul uitstalruimte en die kundigheid van hul personeel. Beoordelaars het ook die winkel onverwags besoek om die ware toedrag van sake te bepaal.

Dit is die eerste keer dat die SACSC die eerbewys landwyd toeken en volgens me. Kirsten Love, woordvoerder, is die eerbewyse ’n inisiatief van die raad om diensverskaffers en kleinhandelaars landwyd te beloon en dienslewering aan te moedig in ’n bedryf wat die vierde grootste bydraer tot Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk (BBP) is.

Share this post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *