WeCreativez WhatsApp Support
Our customer support team is here to answer your questions. Ask us anything!
Hi, how can I help?

POSITIWITEIT KWEEK SUKSES

POSITIWITEIT KWEEK SUKSES

Tharine Geldenhuys

OP die plaas Rooikraal het Dolores Laubscher besluit om “net R500 per maand ekstra vir myself bymekaar te maak”. Met ’n belangstelling in die juweliersmark en geen kennis daarvan nie, het sy honderde briewe na juweliers geskryf om meer uit te vind oor hoe om ’n goudsmid te word en om juwele uit haar plaashuis te bemark. Slegs twee het geantwoord en met R500 wat sy uit die boerdery geleen het, het sy toerusting en goud gekoop om haar eerste ring te vervaardig.

Die familie-onderneming, bekend as HDL, het in 1977 nederig begin en Dolores het by VLU-vergaderings gepraat en uitstallings gehou. “My ma het die eerste bietjie goud per ongeluk laat val en dit het in die plankvloer gesmelt. Sy het dit op haar knieë stukkie vir stukkie met ’n tangetjie opgetel dit en weer gesmee. My pa het toe die goudsmee-werk oorgeneem en HDL het ’n juweliersonderneming geword waarmee rekening gehou kan word,” vertel Johan Laubscher wat oor sy ma se suksesverhaal met vroue op Kroonstad gesels het.

Om ’n lang storie van ’n Afrikaanse gesin in ’n oorheersend Joodse juweliersmark kort te maak: Dolores Laubscher is twintig jaar gelede as die Sarie-kleinsakevrou aangewys en HDL is onlangs as die Nasionale Kleinhandelaar van die Jaar van die Suid-Afrikaanse Raad van Winkelsentrums op ’n spogdinee bekroon.

HDL was die eerste juwelier wat ’n bedryfsregonderneming (franchise), bekend as Galaxy, op die been gebring het. Iets waarop die Laubschers baie trots is.

Laubscher sê dat die eerbewys die kroon op jare se harde werk span en dat sy ouers nou besluit het om af te tree.
Passie en ’n groot dosis positiwiteit is Laubscher se resep vir sukses en hy glo dat die tweede geslag die onderneming van krag tot krag sal laat gaan.

“Dis belangrik dat kinders wat ’n familiesaak wil oorneem van kleins af reeds die kundigheid aanleer en langs hul ouers die kernbedryf leer ken,” sê hy. Hy sê dat enigiemand met genoeg selfvertroue ’n suksesvolle onderneming kan begin, mits daar genoeg passie is vir wat jy doen. “Dit is belangrik om positief te leef en om jou met positiewe, suksesvolle mense besig te hou,” sê Laubscher.

Share this post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *