WeCreativez WhatsApp Support
Our customer support team is here to answer your questions. Ask us anything!
Hi, how can I help?

KOMPETISIE VIR MATRIEKS HET GESLUIT

KOMPETISIE VIR MATRIEKS HET GESLUIT

Sobeth Jordaan

DIE Matrikulant van die Jaar-kompetisie wat deur Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word, het gesluit. Alle inskrywings wat betyds ontvang is, sal nog in die koerant gepubliseer word.

Dié kompetisie is vir veelsydige matriekpresteerders wat volgende jaar Kovsies word. Ruim studiebeurse en groot pryse wag op die finaliste wat tot die eindronde deurdring.

Die Kovsie-Alumni Trust is die hoofborg van dié kompetisie en skenk R62 500 – dit is 25 beurse van R2 500 elk – aan die deelnemers wat as die 25 semifinaliste in die kompetisie aangewys word.

Uit die 25 semi-finaliste word 14 finaliste gekies wat aan die eindronde gaan deelneem. Dié 14 finaliste ontvang hierna nog ’n studiebeurs van R6 000 elk, geskenk deur vier van die borge, Vodacom, Absa, Pick ’n Pay Hypermarket en KPMG.

Daar wag ook ’n spoggerige Mini Cooper wat deur Sove¬reign in Bloemfontein op bruikleen vir die wenner beskikbaar gestel word. ’n Reis na Londen vir die wenner en ’n metgesel word deur XL-Astra Travel in Bloemfontein en Olympic Airlines moontlik gemaak. KPMG is die ouditeure van die kompetisie. Die wenner kry altesaam R15 000 kontant. HDL-Juweliers in Bloemfontein skenk aan elke finalis ’n duursame Seiko-horlosie. Die Laubscher-familie gee ook ’n onafhanklike geldprys van R2 000 aan die finalis met ’n besonderse persoonlike prestasie. Prof. Nico du Plessis van Wêreldkennis skenk ’n kontantprys van R2 000 aan die finalis met die beste algemene kennis.

Die hoogtepunt van die kompetisie breek die naweek van 21 tot 23 September aan wanneer die eindronde in Bloemfontein plaasvind. Die finaliste en hul ouers is dan die gaste van die luukse Protea Hotel oorkant die UV en die wenner word dié naweek op ’n spogdinee aangewys. ) Alle prestasies van die deelnemers word in ag geneem, hoewel meegaande berigte slegs die topprestasies vermeld. Die akademiese punt is volgens ’n gemiddeld oor drie kwartale bereken. Vir verdere navrae bel mevv. Sobeth Jordaan by 051-404-7600, of Linda Greyling by 051-401-3384.

NIKITA STRYDOM is leerlingraadsraadslid van die Hoërskool Grens in Oos-Londen. Sy behaal 100% in akademie en wil medies studeer. Sy presteer in redenaarskompetisies en drama en was redakteur van die skoolkoerant. Nikita het onder meer nasionale kleure in driekamp, en provinsiale kleure in tweekamp en landloop. Haar ouers is dr. Inus en mev. Kariena Strydom.

ANÉ VENTER is onderhoofmeisie van die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein. Sy behaal 84% in akademie en wil arbeidsterapie studeer. Ané is Presidentsverkenner in Die Voortrekkers en sy neem aan atletiek, tennis en netbal deel. Haar ouers is mnr. Ferdi en mev. Marinda Venter.

MIAS VAN JAARSVELD is hoofseun van die Hoërskool Bothaville en hy wil teologie studeer. Hy behaal 95% in akademie en neem aan rugby en atletiek deel. Hy is redakteur van die skoolkoerant en neem aan redenaarskompetisies en revue deel. Sy ouers is dr. Pieter en mev. Odia van Jaarsveld.

WILMARIÉ BÖNING is hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en sy wil arbeidsterapie studeer. Sy behaal 100% in akademie en was redaksielid van die skoolkoerant. Wilmarié presteer in drama, toneel en musiek (klavier). Haar ouers is mnr. Henry en mev. Annelie Böning.

JOHANÉ NIENKEMPER is leerlingraadslid van die Hoër Meisieskool Oranje en sy was onderhoofmeisie van die Bloemfonteinse Kinderkoor. Sy presteer in sang, drama en klavier en blink ook in ballet en danse uit. Johané behaal 90% in akademie en wil media¬studies studeer. Haar ouers is dr. Johan Nienkemper en mev. Dorothy Russell.

KOBUS NEETHLING is hoofseun van die Hoërskool Sarel Cilliers op Glencoe en hy wil menslike bewegingskunde studeer. Hy behaal 85% in akademie. Kobus het provinsiale kleure in rugby en krieket, en hy neem ook aan atletiek en gholf deel. Sy ouers is dr. Tinus en mev. Lizl Neethling.

HANLIE HAGEN is ’n leerlingraadslid van die Hoërskool Kroonstad en sy wil kinderkinetika studeer. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse o.19-netbaloefengroep en neem aan atletiek deel. Haar ouers is mnr. Francois en wyle mev. Jeanne Hagen van Steynsrus.

ELNÉ SMITH van die Hoërskool Heilbron behaal 89% in akademie en wil medies studeer. Elné is ’n Presidentsverkenner in Die Voortrekkers en sy presteer in drama. Sy het die streekspanne in landloop, atletiek en netbal gehaal. Haar ouers is mnr. Pieter en mev. Marlene Smith.

Share this post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *